Gemeenskapstandaarde
Inleiding
Hierdie standaarde is gebaseer op mense se terugvoer en die advies van kenners op gebiede soos tegnologie, openbare veiligheid en menseregte. Om seker te maak dat elkeen se stem saak maak, skep ons met groot sorg standaarde wat verskillende sienings en oortuigings insluit, in besonder van mense en gemeenskappe wat andersins oorgesien of gemarginaliseer kan word.
Mense gebruik Facebook, Instagram, Messenger en Threads elke dag om hulle ervarings te deel, met vriende en familie te verbind en gemeenskappe te bou. Ons dienste stel miljarde mense in staat om hulself vrylik oor lande en kulture en in dosyne tale uit te druk.
Meta besef hoe belangrik dit is dat Facebook, Instagram, Messenger en Threads plekke moet wees waar mense bemagtig voel om te kan kommunikeer, en ons is ernstig oor ons rol om misbruik van die diens af te hou. Dit is waarom ons standaarde ontwikkel het vir wat op hierdie dienste toegelaat word en wat nie.
Let asseblief daarop dat die weergawe van die Gemeenskapstandaarde in Engels vir die VSA die jongste stel beleide weerspieël en dat dit as die primêre dokument gebruik moet word.
Ons verbintenis tot uitdrukking
Die doel van ons Gemeenskapstandaarde is om ’n plek vir uitdrukking te skep en om aan mense ’n stem te gee. Meta wil hê dat mense openlik moet kan praat oor die kwessies wat vir hulle saak maak, hetsy deur geskrewe opmerkings, foto’s, musiek of ander kunsmediums, selfs al stem sommige mense nie daarmee saam nie of al vind hulle dit aanstootlik. In sekere gevalle laat ons inhoud toe wat andersins ons standaarde oortree as ditnuuswaardig en in die openbare belang is. Ons doen dit slegs nadat ons die waarde van openbare belang opgeweeg het teen die risiko vir skade, en ons gebruik internasionale menseregtestandaarde om hierdie besluite te maak. In ander gevalle kan ons inhoud verwyder wat dubbelsinnige of implisiete taal gebruik wanneer bykomende konteks ons toelaat om redelik te verstaan dat die inhoud strydig is met ons standaarde.
Ons verbintenis tot uitdrukking is van die uiterste belang, maar ons besef dat die internet nuwe, en meer, geleenthede vir misbruik skep. Wanneer ons uitdrukking om hierdie redes beperk, doen ons dit as gevolg van een of meer van die volgende waardes:
EGTHEID
Ons wil seker maak dat die inhoud wat mense sien, eg is. Ons glo dat egtheid ’n beter omgewing skep om dinge te deel, en dit is waarom ons nie wil hê dat mense ons dienste moet gebruik om ’n wanvoorstelling te gee van wie hulle is of wat hulle doen nie.
VEILIGHEID
Ons is verbind daartoe om Facebook, Instagram, Messenger en Threads veilige plekke te maak. Ons verwyder inhoud wat tot die risiko vir skade aan die fisiese veiligheid van persone kan bydra. Inhoud wat mense bedreig het die potensiaal om ander mense te intimideer, uit te sluit of stil te maak en word nie op ons dienste toegelaat nie.
PRIVAATHEID
Ons is verbind daartoe om persoonlike privaatheid en inligting te beskerm. Privaatheid gee mense die vryheid om hulself te wees, te kies hoe en wanneer hulle iets op ons dienste wil deel en om makliker met ander te verbind.
WAARDIGHEID
Ons glo dat alle mense gelyk is in terme van waardigheid en regte. Ons verwag dat mense die waardigheid van ander sal respekteer en nie ander sal teister of verneder nie.
Gemeenskapstandaarde
Ons Gemeenskapstandaarde geld vir almal, oor die hele wêreld, en vir alle tipes inhoud, insluitende AI-gegenereerde inhoud.
Elke afdeling van ons Gemeenskapstandaarde begin met ’n “Beleidsrede” wat die doelwitte van die beleid uiteensit gevolg deur spesifieke beleidsposisies wat die volgende verduidelik:
Inhoud wat nie toegelaat word nie; en
Inhoud wat bykomende inligting of konteks vir afdwinging vereis, inhoud wat met ’n waarskuwingskerm toegelaat word of inhoud wat toegelaat word maar slegs deur volwassenes van 18 jaar en ouer bekyk mag word.